Logo
Mooimaak_Daleen

Daleen van Pletzen

Ek is oor drie maande 52 jaar oud. Ek is getroud en het vier pragtige kinders van my eie, en een stiefdogter – die oudste is 26 en jongste is 17.

Ons woon vanaf Desember 2013 in Somerset Wes nadat ons besluit het om Pretoria en die gejaagde lewe daar vaarwel te roep. Ek doen my man se besigheid se boeke, en my oorspronklike beroep, die van bloemis, het my stokperdjie geword.

Ek doen vryskut blomme vir troues, funksies en ook vir ’n wynplaas in die Stellenbosch-omgewing, want blomme is my passie en ek noem dit blom-terapie.

In my kop is ek nog 25, jonk en mooi, want in my ‘jongdae’ het ek die koppe laat draai met my fietse lyfie en vleklose gesig, maar as ek nou in die spieël kyk, voel dit soos ’n vreemde, afgeleefde, middeljarige vrou wat vir my terugkyk. Die feit dat my man ietwat jonger as ek is, laat my nie juis beter oor myself voel nie.

Die laaste paar maande het ek ook agter gekom dat my wange ’n lewe van hulle eie gekry het en skielik ’n paar sentimeter laer sit as wat hulle veronderstel is om te sit. En my lippe het besluit om te verdwyn. Dit, saam met die diep frons tussen my wenkbroue, laat my soos ’n baie nors person lyk, maar eintlik is ek baie vriendelik en liefdevol. – ek het beslis hulp nodig!

Ek dra al my hare vir die laaste 20 jaar in dieselfde styl en lyk altyd dieselfde. Ek het besluit om in te skryf omdat ek die tipe persoon is wat my laaste kos en klere sal gee as iemand dit vra en altyd die een is wat aanbied om goed te doen. Hierdie wil ek vir myself doen.

Ek is ’n introvert wat maklik verdwyn in ’n groep, en die feit dat ek nie baie selfvertroue het oor my voorkoms nie maak dit nie juis maklik om the bell of the ball te wees nie. Ek wil mooi lyk vir myself – die feit dat my man daarby gaan baat is ’n bonus!