web uni tv guide
web uni tv guide

Schuster

144Dokumentêr13

'Schuster': Eerste episode lê fondasie vir uitsonderlike reeks

Nuus03 Oktober 2025
Met die eerste episode van Schuster, die nuwe dokumentêre reeks oor die lewe en loopbaan van Leon Schuster, was dit reeds duidelik hoe geweldig baie respek en waardering sy kollegas en eweknieë in die vermaakbedryf vir hom het.
Schuster

Groot name soos PJ Powers, Alfred Ntombela en Willie Esterhuizen het die episode ingelei met lofbetuigings. Kenneth Nkosi het Leon se bydrae dalk die beste beskryf toe hy gesê het Leon het komedie se deure oopgegooi. “Dit was Suid-Afrikaanse komedie, want hy het vir álmal poetse gebak,” was Kenneth se woorde. 

Die regisseur en aanbieder van die reeks, Rian van Heerden, het by Leon aan huis in Randburg gekuier, waar hy meesal vasgekluister is as gevolg van ’n rug wat hom al geruime tyd opkeil. 

Leon se vertellings van sy jeug en die poetse wat hy en sy broer toe al gebak het, wys dat hy al kleintyd gereed gemaak het vir die loopbaan wat hy eendag sou volg. Hy sê egter deesdae reguit dat dit nie meer in hom is om dit te doen nie. “Koebaai, pranks. Ek wil eintlik hê daar moet op my grafskrif staan: ‘Leon Schuster kon nie die laaste klap vat nie.’ Ek is klaar daarmee. Ek wil nie meer gedôner word nie,” sê hy. 

Leon neem daarom in die reeks die komediant en gekskeerder Jacques van der Loon, wat onder die naam Kyle vir mense poetse bak en gewild op sosiale media is, onder sy vlerk om hom meer oor dié gevaarlike kuns te leer sodat hy die tradisie kan voortsit.

Die eerste episode het afgesluit met ’n roerende besoek aan Bloemfontein, waar Leon van sy voormalige spanmaats van die Universiteit van die Vrystaat se rugbyspan, die Shimlas, ontmoet het. Ná ’n draai by die Shimla-museum, het Leon sy spanmaats by die Vrystaat-stadion ontmoet en is daar stories gedeel en gespot oor wie nog die vinnigste kan beweeg. Hulle het selfs die span se kreet gedoen. 

In episode 2, wat op Woensdag 8 Oktober uitgesaai word, word daar teruggekyk na sy begindae by radio en die poetse waarmee hy luisteraars geflous het, asook die begin van sy poetse wat op film vasgelê is. Bekendes soos Robbie Wessels, Jack Parow en Carike Keuzenkamp vertel hoe hulle uitgevang is, en Leon deel stories van die hardste fisiese houe wat hy al in sy loopbaan gekry het. 

  • Schuster is op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar. Die reeks bestaan uit vyf episodes.