Logo
Die brug S1 Slim BB

“Payback time is a b***h” – Die brug

Nuus
29 Desember 2023
Moenie verder lees as jy nog nie episode 10 gekyk het nie.
Die brug

Aan die einde van episode 9 is die oorblywende spelers voor ’n keuse gestel: Verlaat dadelik Die brug en kry R100 000, of bly en vat jou kanse. Veral Larry, wat hoog en laag belowe het hy gaan die geld deel, het ernstig gewik en geweeg of hy die geld moet kies, maar op die ou end het al nege spelers besluit om te bly – elkeen om hul eie redes. Robert, byvoorbeeld, wou hê sy kinders moet trots op hom wees. Tina wou bly vir die hele miljoen, en Sam het gesê dat dit vir hom meer beteken om te bly as wat die R1 miljoen ooit vir hom kan beteken.

William het voorgestel dat elkeen van die spelers voor die ander motiveer waarom hulle uiteindelik die een moet wees wat oor die brug moet stap, maar Geo, Robert en Jacques was oortuig daarvan dat dit eintlik Larry se idee was. In ’n gesprek tussen Tina en Sam, het Sam laat blyk hy dink Geo wil nog sy staal as leier wys, maar Tina het gemeen dis te laat in die spel daarvoor. Het Geo sy kans verspeel?

’n Fakkel bring pos wat nog ’n knuppel in die hoenderhok gooi. Die spelers moet elkeen hardop sê wie hulle volgende wil verwyder, en die persoon wat die meeste stemme kry, moet dan nog iemand saam met hulle neem. Van die nege spelers, wat almal hard werk om die vlotte gebou te kry, sal dus net sewe oor wees, en dit sal nog meer druk op hulle sit om betyds klaar te maak.

Larry het die meeste stemme gekry en het Melanie saam met hom geneem. “Dis ’n hartseer einde vir ons,” het Larry gesê. Die hartseer het egter ’n angel in die stert gekry toe Larry en Melanie op ’n pak note (R100 000 in totaal) afkom met ’n opdrag daarby: Vernietig tien vlotte en kry elkeen R50 000, of los die vlotte en gaan met leë hande huis toe. Later, nadat die twee van hulle die tien vlotte verwoes het, het Larry, wat bitter oor sy verwydering was, gesê: “Payback time is a bitch. Jy het my gestraf, en nou straf ek jou terug.”

Tina en Iana, die twee oorblywende vroue, het begin mor dat die mans hulle nie belangrik genoeg ag nie. Hulle het alleen twee vlotte klaar gebou en kon ook vinniger as die mans die hout op die trollie aangesleep kry. “Moet ons nie onderskat nie,” was Tina se waarskuwing.

Aan die einde van episode 9, met tien vlotte wat vernietig is, het die oorblywende sewe spelers net twee dae oor. Hulle sal 13 vlotte per dag moet bou om hulle teiken te haal. Gaan hulle dit in die laaste episode kan regkry? Belangriker nog: Wie gaan oor die brug stap en gaan daardie persoon die wengeld deel?

Skakel elke Donderdag om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir Die brug en gesels saam op FacebookXInstagram en TikTok deur die hutsmerk, #DieBrug te gebruik.