web uni tv guide
Diepe waters S4 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Kruger Coetsee terug in Diepe Waters: “Dis lekker om vir Sam ’n groter storie te gee”

Nuus11 Februarie 2026
Wie sou kon raai dat die karakter Sam só kardinale rol in Marco (Xander Venter) se pad tot vergifnis kan speel. Hyself was dan die boelie toe kykers hom laas in seisoen twee van Diepe Waters gesien het.
Diepe waters

Maar nie die keer nie. Sam is nou ’n jong man wat aan homself gewerk het, vertel nuweling Kruger Coetsee wat dié karakter op die kassie vertolk.

“As ek Sam was, sou ek dadelik na coach Jacques (Werner Coetser) toe gegaan het toe Marco hom geboelie het. Nie om te klik nie, maar om vir myself op te staan,” verduidelik Kruger (20).



“Sam onderdruk ongelukkig sy emosies,” voeg hy by.

In seisoen twee van dié kykNET-telenovella moes kykers in ’n paar episodes sien hoe Sam se aggressie gereeld oorborrel wanneer hy en Tommie (Righard van Jaarsveld) sou koppe stamp by die Swartmarlyne.

Nou is dit die berugte Marco Viljoen wat die boelie is, en in ’n mooi volsirkel-oomblik dié keer vir Sam die geleentheid gee om die held te wees en Marco van die woededuiwel te red.



En daarvan weet sy karakter goed, nes die gevreesde Schalk Viljoen (Izak Davel), was dit ook Sam se pa (Adriaan Marais) wat laaskeer sy karakter met aggressie gedruk het om te presteer.

“Dis lekker om te weet dat ek nou langer op skerm is en dat Sam ’n groter storie kry. Sam was laaskeer gesien as die boelie vol woede, maar nou kan ’n mens die goeie kant van sy karakter sien,” vertel Kruger.

“Hierdie keer is daar meer nuanse in sy optrede, want hy probeer ’n goeie ou wees wat nie deur sy woede gedryf word nie.”



’n Langer storielyn het ook beteken dat Kruger meer van die geliefde Diepe Waters-wêreld kon beleef en langer tyd met die ander akteurs kon spandeer.

Daar is selfs sy aan-en-af liefdesverhouding met Hanneli (Carla Schönfeldt) wat as die nuwe paartjie in Boskruin kykers gaande het.

Hoewel almal in die rolverdeling hom die eerste keer met “ope arms” verwelkom en baie spesiaal laat voel het, was dit tog senutergend om as nuweling voor die kameras sy passie uit te leef.

“Hierdie keer kon ek vinniger gewoond raak aan die stel en dit meer geniet om saam met almal te werk. Dit het gevoel of ek daar hoort,” vertel Kruger.

“Ek het in baie meer Diepe Waters-plekke verfilm. Ek kon byvoorbeeld Lettie se Kêffie beleef, wat so ’n groot komponent van die storie is.”



Kruger, ’n Pretorianer wat aan Hoërskool Wonderboom gematrikuleer het, is mal oor perdry en om in die gym spiere te bou en fiks te bly.

Hy het ook onlangs as onluikende sanger sy heel eerste enkelsnit vrygestel onder die verhoognaam Cappie. Kruger vertel opgewonde dat “Rigting” nou op alle stroomdiense geluister kan word.

’n Loopbaan ver van die verhoog af was hom beslis nie beskore nie. “Die gevoel en wete dat ek wil toneelspeel en sing was nog altyd daar. As kind het ek saam met my nefie en niggie buite gaan speel en dan het ons ’n hele verbeeldingswêreld binnegegaan,” verduidelik Kruger.

“Hulle het altyd vir my gevra om die storie en karakters te skep, so ek het toe al geweet ek is baie kreatief.”

In 2022 het hy in die Silwerskermfees-kortfilm Begrawe my hart gespeel en binnekort begin hy in Kaapstad aan ’n internasionale produksie verfilm. Meer kan hy nog nie verklap nie.

Vir nou moet kykers wag om te sien hoe Sam vir Marco help om teen Schalk op te staan en sy aggressiewe boeliegedrag onder beheer te kry.



En gaan Sam Hanneli se hart kan terugwen nadat ’n bui van woede hul romanse laat verbokkel het? ’n Mens kan net hoop dat die maand van liefde ’n paar verrassings inhou!

 Diepe Waters wys elke Maandag tot Donderdagaand om 18:30 op kykNET. Dis ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.