DRAMA EN SEPIES
Een keer om die son
Dinsdae op kykNET( DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
3 Februarie
Ruan nooi Erica uit op ’n date. Amé neem ’n drastiese besluit oor haar werk. Leandri se behandeling begin. Markus begin swik onder die druk en pyn.
10 Februarie
Die familie se Paasfeesplanne word opsy geskuif vir Leandri se behandeling. Ruan sukkel om sy verhouding vir Sophia weg te steek. Amé worstel met haar vrees. Markus bereik ’n breekpunt.
17 Februarie
Ruan nooi Erica vir ’n familie-ete. Markus bied weerstand teen die rehabilitasieproses en ontmoet onverwags iemand. Leandri se behandeling kom tot ’n einde.
24 Februarie
Ruan en Erica besluit om dinge stadiger te vat. Leandri kry ’n groot terugslag. Sophia wil haar pa se verhouding beëindig. Markus leer vir Trevor ken. Lani se verjaarsdag bring gevoelens na vore.
Lees meer oor die jong spelers in Een keer om die son: Een Keer Om Die Son
Landman
Landman begin op 22 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Die reeks het ’n ouderdomsbeperking van 16
Dit is sedert 2024 een van die gewildste dramareekse wêreldwyd, en op 22 Februarie maak Landman ook sy buiging op kykNET – in Afrikaans.
Landman speel in die weste van die Amerikaanse deelstaat Texas af en vertel die verwikkelde verhaal van ’n groep mense – van die miljardêrs tot die olieveldwerkers – wie se lewe om olie draai. Landman draai egter nie net om grondbesitters en ryk oliebase nie. Die weste van Texas grens aan Meksiko, wat beteken dat dié gebied ook deur dwelmkartels as ’n verspreidingsroete gebruik word.
Lees hier meer oor die reeks: Globale fenomeen Landman praat Afrikaans op kykNET
Binnelanders
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Ivanka kom kuier en besluit om iemand wat deur ’n moeilike tyd gaan, by te staan. Terwyl ’n paar slaggate in Ella en Henry se verhouding sigbaar word, beweeg Ella en Johan al nader aan mekaar. Annetjie deel slegte nuus met Bonnie en haar woonstelmaats, en Hannah moet eers hartseer nuus verwerk voordat sy weer vreugde kan ervaar.
Petro se vriende gryp in om ’n droom wat sy koester te bewaarheid, en At maak ’n belangrike aankondiging. ’n Binneland-dokter en -suster raak romanties betrokke, en Ella vind iets uit wat die potensiaal het om haar lewe onherroeplik te verander. Zaan Sonnekus tree in Doepa op, en ’n vreemdeling begin vrae oor Yvonne vra. Nicolette en Uys word gedwing om ná ’n krisis saam te isoleer.
Diepe waters
Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Spanning loop hoog in Boskruin wanneer dinge tussen Hannelie en Sam breekpunt bereik en Gys verskeie professionele en persoonlike vure moet probeer doodslaan. Terwyl Pam en Zelda met briljante planne vorendag kom om hul veldtogte ’n hupstoot te gee, moet Gys vinnig dink om skadebeheer te doen. Intussen wonder die Viljoen-kinders of Schalk se skielike begeerte om te verander opreg is.
Siseko kry skokkende nuus en konfronteer Vuyelwa oor haar manipulerende planne, wat sy verhouding met Pam tot die uiterste beproef. Terwyl die media op Liam toesak en ’n nuwe atleet by die Swartmarlyne aansluit, moet moeilike keuses tussen lojaliteit en selfbehoud gemaak word.
Kykers kan uitsien na groot aankondigings van die Viljoen Vyf en Leandri wat die status quo permanent sal verander. Met Rene wat ’n oog op Liam het en die Viljoens wat desperaat hoop dat die slegte tye verby is, neem gebeure in die park ’n onverwagte wending wat niemand kon voorsien het nie. Wie sal staande bly met Schalk se invloed wat soos ’n groeiende donker wolk oor Boskruin saampak?
Suidooster
Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Februarie skop af met hoogdrama in Ruiterbosch wanneer Nazeem se slinkse verkiesingsveldtog momentum begin kry. Hy speel vuil deur Siya tydens ’n openbare debat te saboteer en later selfs ’n reddingspoging op see te manipuleer om homself na ’n held te laat lyk. Zoe begin die waarheid raaksien en wil Nazeem aan die kaak stel, maar Nazeem bly haar een stappie voor en is net te glibberig. Gaan Siya die slagoffer van Nazeem se agterbakse speletjies wees?
Intussen worstel Angie met die nagevolge van haar traumatiese verhouding met Tristan. Boonop doen Tristan iets wat die inwoners van Ruiterbosch behoorlik ruk. Susan en Elana word gekonfronteer met moeilike keuses oor ’n moontlike nuwe lewe in die Bosveld, maar Linda se skokkende onthulling verander alles.
Kate se nostalgiese skattejag laat haar besef hoe ryk haar lewe werklik is. Die Samsodiens kom voor ’n nuwe toets te staan wanneer Rhafiek begin vrees dat iets ernstigs met sy gesondheid verkeerd is. Teen die einde van die maand ontvou nuwe verhoudings, maar ou wonde word ook oopgekrap.
Skemergrond
Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
In Februarie bereik die spanning in Gemoedsdrif nuwe hoogtes, met Meryl, Ruan en Christine in die middel van die drama. Meryl se gedrag begin konflik veroorsaak, veral in die Bistro en in haar rol as Wayne se persoonlike assistent. Haar optrede lei ook tot spanning in die gemeentskap. Christine bevind haarself onder druk, maar sy is vasberade om nuwe planne te maak. Haar verbete stryd teen die Louws wys dat sy nie maklik opgee nie.
Ruan se ondersoek neem ’n nuwe wending wanneer hy Kaapstad toe vertrek om Vlek op te spoor. Daar is groot struikelblokke in sy pad, maar ook oomblikke van hoop. Teen die middel van die maand, eskaleer die spanning wanneer dit duidelik word dat iemand hom dophou en Vlek se invloed selfs tot in Gemoedsdrif strek. Ruan bring die gyselaar-situasie tot ’n einde, maar die gebeure het almal, veral Lily, hard geskud.
Intussen dra Christine se nuwe planne vrugte, en dit wys hoe vasberade en kreatief sy is. Meryl se rol en interaksies dryf die konflik tot op ’n spits, en sy moet weer vir haar ’n plek in die gemeenskap vind. Die inwoners van Gemoedsdrif word voortdurend getoets, en Februarie bewys dat die dorp nie stil sal bly nie – elke aksie van Meryl, Ruan en Christine het gevolge wat die dinamiek in die dorp verder kompliseer.
LEEFSTYL
Oppiestoep
Die nuwe seisoen begin op 27 Februarie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Pietman Geldenhuys en Lyntjie Jaars is terug met nog ’n seisoen vol stories, humor en musiek uit die boonste rakke. Gaste dwarsoor die hele land kom kuier saam, en die musiek word deur Schalk Joubert en sy musikale vriende verskaf.
Sê jou sê
Sê jou sê word Sondae om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Die tonge gaan weer binnekort klap wanneer die sesde seisoen van Sê jou sê op Sondag 1 Februarie afskop. Dié gewilde geselsprogram gaan nogmaals die kollig laat val op gewone mense se uitdagings, hartseer verhale en omstrede onderwerpe.
Dis weer die ervare aanbieder Aden Thomas wat kykers uitnooi om saam te luister, saam te dink en saam te praat oor kwessies wat Suid-Afrikaners werklik raak. In ’n wêreld waar sosiale media vinnig meedoënloos veroordeel, bly Sê jou sê een van die min platforms vir oop en eerlike gesprek met wedersydse respek.
Seisoen 6 skop af met ’n alledaagse vraag: Is naming and shaming op sosiale media geregverdig of gevaarlik? Aden en sy gaste ondersoek die fyn lyn tussen mense verantwoordbaar hou en hulle in die openbaar verneder.
REALITEITSREEKSE
Ander dam se eende
Ander dam se eende is Maandae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
2 Februarie
Nashville bring rissiehoender, countrymusiek, ’n liedjieskryfsessie en ’n aand uit op die ikoniese Broadway-musiekmyl.
9 Februarie
Die ouens ervaar ’n emosionele besoek aan Graceland, Bealestraat se blues, straatkunstenaars en ’n verrassende slang-oomblik langs die Mississippi.
16 Februarie
In Dallas en Fort Worth is dit cowboy-kultuur, longhorn-beeste en honky-tonks. Slapeloosheid lei Brendan tot ’n laatnagoptrede.
23 Februarie
Die manne geniet ’n broodnodige afdag: swem, oefen, was wasgoed en laaf hulself. Die dag eindig met ’n heerlike braai saam met ’n groep Suid-Afrikaners in Austin.
Op my eish!
Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
In Februarie neem Ruan en JP die rol van afrigters aan, en die dames moet touch rugby speel. Die wenspan kry die geleentheid om met Ruan op ’n bosrit te gaan. Tussen kompetisie, trane en ’n romantiese afspraak, lei gesels dalk tot meer. ’n Partytjie by die swembad klink dalk onskuldig, maar Ruan wonder wat agter die glimlagte en mooi woorde skuil.
DOKUMENTÊRE
Frank
Frank begin op 18 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Frank Opperman is ’n legende in sy eie leeftyd. Ewe gemaklik voor die kamera of op die verhoog, is hy dekades al een van Suid-Afrika se grootste akteurs. Maar hy is ook ’n musikant, filosoof, pa en oupa. In hierdie dokumentêre reeks van drie episodes vat hy en sy regisseur-seun, Frankie Opperman, die langpad op soek na ’n leeftyd se herinneringe.
18 Februarie
Frankie Opperman ontmoet sy pa, die akteur Frank Opperman, in Kaapstad. Hy vind meer uit oor sy pa se lewe in Woodstock, en hulle en ’n paar akteursvriende spandeer ’n dag saam op die stel van ’n nuwe reeks.
25 Februarie
Die twee Franks pak ’n reis van Kaapstad na Johannesburg aan. Hulle besoek verskeie van Frank se vriende en kollegas in plekke soos Worcester, Hermanus en Klaarstroom, en ry verder na die onbekende Oppermansdorp.
Beloofde land
Beloofde land is Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
4 Februarie
Die eerste groep van 59 Afrikaner-vlugtelinge wat na Amerika vertrek het, is dwarsoor Amerika hervestig. Ons gesels met twee paartjies wat saam met hulle gesinne deel was van daardie groep.
11 Februarie
Die laaste episode in die reeks. Is Amerika toe wel die beloofde land, of is Suid-Afrika, met al sy nukke, nie dalk die land van melk en heuning nie?












