kykNET het ’n groot slag vir Afrikaanse kykers geslaan deur die oorklankingsregte van dié trefferreeks aan te koop wat gehore oraloor boei met naelbyt-intriges in die onstuimige wêreld van die oliebedryf in Texas.
“Ons is baie opgewonde om te sien hoe kykers op hierdie reeks gaan reageer – dit sluit diegene in vir wie Landman heeltemal nuut is, en ook diegene wat dalk al die reeks in Engels op M-Net gekyk het, en dit nou in hul moedertaal wil ervaar. Landman is een van die laaste jare se groot TV-hoogtepunte, en ons glo die storiewêreld wat Taylor Sheridan geskep het, sal vir heelwat van kykNET se kykers aangrypend wees – en vermaaklik!” sê Waldimar Pelser, M-Net direkteur van Premium-kanale. “Wees egter gewaarsku: dit raak soms nogal warm daar in Texas!”
Die reeks is deur Taylor Sheridan geskep wat ook vir trefferreekse soos Yellowstone, 1883 en 1923 verantwoordelik was. Landman speel in die weste van die Amerikaanse deelstaat Texas af en vertel die verwikkelde verhaal van ’n groep mense – van die miljardêrs tot die olieveldwerkers – wie se lewe om olie draai.
Billy Bob Thornton is te sien as die landman Tommy Norris. In Afrikaans is ’n landman iemand wat met die bewerking van plaasgrond te doen het. In hierdie geval is dit iemand wat die uiters belangrike skakel tussen oliemaatskappye en grondeienaars is; die een wat moet onderhandel oor regte vir ontginning en ontwikkeling terwyl die wetlike voorskrifte, wat ’n span hoogsbetaalde regsgeleerdes natuurlik ten gunste van hul werkgewers probeer plooi, ook in ag geneem moet word.
Landman draai egter nie net om grondbesitters en ryk oliebase nie. Die weste van Texas grens aan Meksiko, wat beteken dat dié gebied ook deur dwelmkartels as ’n verspreidingsroete gebruik word.
Wie is wie?
Tommy Norris (Billy Bob Thornton met die stem van De Waal Stemmet) is ’n geharde landman wat vir M-Tex Oil werk en al hulle onderhandelinge behartig. Om almal, van die oliebase tot die dwelmhandelaars, gelukkig te hou, is egter geen maklike taak nie.
Angela (Ali Larter met die stem van Natasja Jacobs) is Tommy se eksvrou en die ma van sy twee kinders, Cooper en Ainsley.
Cooper (Jacob Lofland met die stem van Rowlen von Gericke) het geologie studeer, maar het sy studies gestaak en werk nou vir M-Tex as ’n handlanger op die olievelde.
Ainsley (Michelle Randolph met die stem van Anré Buguegnon) is ’n hoërskoolleerder.
Rebecca Falcone (Kayla Wallace met die stem van Sue Pyler) is ’n regsgeleerde wat werk vir M-Tex Oil doen.
Dale Bradley (James Jordan met die stem van Antowan Nöthling) is ’n petroleum-ingenieur en ’n goeie vriend van Tommy.
Monty Miller (Jon Hamm met die stem van Charl van Heyningen) is die eienaar van M-Tex Oil en het ’n jarelange professionele en persoonlike verhouding met Tommy.
Cami Miller (Demi Moore met die stem van Renske Jacobs) is Monty se vrou.
Nathan (Colm Feore met die stem van Jakkie Groenewald) is ’n prokureur en administrateur by M-Tex Oil.
Ariana Medina (Paulina Chavez met die stem van Claudia Jones) is ’n jong weduwee wie se man in ’n ongeluk op een van M-Tex Oil se olievelde dood is.
’n Gedugte span vertalers, onder meer Morné Coetzer, Janine Opperman en Francois le Roux, het hulle uitstekend van hul uitdagende taak gekwyt en dit reggekry om die atmosfeer van hierdie briljante reeks in Afrikaans vas te vang. Die oorklankingsregisseurs is Rina Nienaber en De Waal Stemmet.
Verfilming van Landman het Februarie 2024 in Fort Worth, Texas, begin. Die eerste twee episodes is op 17 November 2024 uitgesaai en was dadelik ’n internasionale treffer. Die eerste seisoen, wat uit tien episodes bestaan, se laaste episode is op 12 Januarie 2025 uitgesaai. Die tweede seisoen het onlangs begin, en die kontrak vir die maak van die derde seisoen is in Desember 2025 geteken.
kykNET se Afrikaanse weergawe is een van die min oorklankings van die reeks wat wêreldwyd beskikbaar is.
Landman begin op Sondag 22 Februarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Die reeks het ’n ouderdomsbeperking van 16.
