Kykers van kykNET (DStv-kanaal 144) se Diepe Waters word genooi om op Donderdag 25 Desember saam met die Boskruin-gemeenskap Kersfees te vier in ’n spesiale Kersfees-episode – ’n aand gevul met musiek, lig en die ware gees van die seisoen.
Die intieme Kerskonsert word in Gys (Justin Strydom) se tuin gehou, waar verskeie geliefde karakters hul verborge sangtalente ten toon stel. Die konsert word geopen met Rossouw (Altus Theart) se weergawe van Lofsing die Heer – ’n oomblik van dankbaarheid en refleksie.
Soos die son sak en die liggies begin skitter, bring Pam (Tracey-Lee Oliver) warmte en feestelikheid met Vanessa Williams se weergawe van Hark the Herald Angels Sing. Daarna raak Lettie (Stephanie Baardman) en Henry (Stiaan Bruwer) aan die hartsnare met Ave Maria.
Stephanie Baardman sê oor die duet: “Dit is in die eerste plek altyd besonders om saam met Stiaan te sing, omdat ons mekaar op persoonlike en musikale vlak een honderd persent verstaan. Tweedens is die lied beslis vir my spesiaal, omdat dit direk tot Maria, Jesus se Moeder, spreek. Sy is ’n sentrale figuur in die hele Kersverhaal wat soms oorgesien word, so ek is dankbaar dat ons die eer aan haar kon bring met hierdie lied.”
Min kykers weet dat Karla (Danielle Swanepoel) en Arno (Jean Henry) ook kan sing – en hul vertolking van In die velde dig by Bethlehem verras en bekoor.
Die hoogtepunt van die aand volg wanneer Bobby van Jaarsveld ’n besondere weergawe van Stille Nag sing, gevolg deur Kyk hoe glinster die maan – ’n oomblik wat die essensie van Kersfees vasvang: vrede, hoop en saamwees.
Oor sy lied sê Bobby van Jaarsveld: “Dis asof jou menswees net stil raak sodra jy die lied hoor… Ja, uit respek uit, maar ook uit ’n plek van herinneringe. Dis iets wat jy onthou wat jou altyd sal terugvat na ’n spesiale tyd saam jou geliefdes.”
En soos dit Diepe Waters betaam, hou die aand ook ’n onverwagse hereniging in … sonder om te veel te verklap.
Skakel 25 Desember 18:30 in vir Diepe Waters se hartroerende Kersfees-episode, waar musiek, stories en die ware gees van Kersfees saamvloei.
