’n Vakansiedorp aan die kus. Families wat al vir geslagte by dieselfde karavaanpark uitspan. Kinders wat op die strand speel. Braaivleis onder die bome. Alles is idillies – tot daar ’n lyk op die strand uitspoel.
Die oord, ’n splinternuwe dramareeks van tien episodes, begin 14 Aril op kykNET. Dit het ’n sterbelaaide rolverdeling wat groot name soos Jana Kruger, Erica Wessels, Melissa de Vries, Dawid Minnaar, Jacques Bessenger, Nicole Holm, Zane Meas, Antoinette Kellermann, Laudo Liebenberg, Liam Bosman, Clayton Evertson en Amalia Uys insluit.
“Die idee vir Die oord broei al lank in my,” sê die veelbekroonde Christiaan Olwagen, skepper van die reeks, wat die draaiboeke saam met Lorraine Burger en Igna Botha geskryf het. “As kind het my ma ons elke Desember Swartvlei-karavaanpark toe gesleep – see toe. ’n Karavaanpark het sy eie ekologie: klein hiërargieë, ongeskrewe reëls, bondgenootskappe en wrywing wat oor dae opbou.
“Dit het vir my gevoel soos die perfekte locked-room-ruimte vir ’n moordreeks: ’n afgeleë plek, ’n klomp mense wat mekaar nie kan vryspring nie, en dan ’n skok wat alles ontspoor. Ek wou delf in herkenbare tipes en my emosionele geheue van daardie wêreld; ’n soort gedeelde erfenis.”
In Die oord is Martie Pretorius (Jana Kruger) ’n kriminoloog wat vir die eerste keer in jare met vakansie gaan. Haar seun, Paul (Liam Bosman), is op universiteit, en hulle sien mekaar min. Martie is oortuig hierdie vakansie by die Seerust-kampterrein in die fiktiewe Kalfiebaai by haar suster, Elsabé (Erica Wessels), en haar gesin kan hulle net goed doen.
Die vakansie ontaard egter wanneer ’n tienerseun se liggaam op die strand gevind word. Skielik is almal ’n verdagte.
Brandi Jacobs (Melissa de Vries) van die plaaslike polisie dink dit is die bendes van die Kaap wat hulle kloue in die klein gemeenskap begin inslaan, maar Martie het ’n ander teorie. Die wonde. Die plastieksak. Die Bybelvers. Sy het dit al gesien. Vyftien jaar gelede. ’n Reeksmoordenaar wat Prediker heet.
Martie word teen haar sin in die ondersoek ingetrek terwyl sy probeer om ’n verpletterende geheim vir haar seun, Paul, weg te steek.
Die regisseur van Die oord is Eva du Preez, en die reeks is in en om die Kaapse Skiereiland, van Kommetjie tot Melkbosstrand, asook in die noordelike voorstede van Kaapstad, verfilm. Die vervaardigers is Wolflight Films, onder leiding van Roelof Storm, wat ook vir die Safta-benoemde dramareeks Niggies verantwoordelik was.
Die oord begin op 14 April op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Meer oor die karakters en spelers:
- Martie Pretorius (Jana Kruger) is ’n kriminoloog en haar seun, Paul (Liam Bosman), is ’n student.
- Die Cilliers’s is Elsabé (Erica Wessels), Drikus (Laudo Liebenberg) en hul seun, Stefan (Heinrich Wentzel). Martie en Elsabé is susters.
- Brandi Jacobus (Melissa de Vries) en Stoffel Cupido (Clayton Evertson) is verbonde aan die SAPS. Brandi se oom, Eddie (Zane Meas), is hoof van die SAPS-stasie op Kalfiebaai.
- Die Groenewalds, wat ook al jare by Seerust-kampeerterrein vakansie hou, is Juanita (Amalia Uys) en Braam (Zak Hendrikz) en hulle twee kinders, Joshua (Angelo Johnson) en Marioli (Luandri Reynders).
- Lukas du Preez (Jacques Bessenger) is ’n wewenaar-predikant wat op Kalfiebaai saam met sy dogter, Mia (Minke Marais), woon.
- Miems Louw (Nicole Holm) is die eienaar van die winkel by Seerust-kampeerterrein en het twee kinders, Jacomien (Christie van Niekerk) en JP (Damian de Villiers).
- Hester Bruwer (Antoinette Kellermann) is die burgemeester van Kalfiebaai. Haar man is Thys (Chris van Niekerk).
- Witblits (Carel Nel) is die dorp se hawelose wat oë en ore oral het.






