Die reeks Schuster het pas ten einde geloop, maar die goeie nuus is dat Schuster trefferflieks in Desember op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien is. Vier van Leon se grootste treffers sal uitgesaai word vanaf Saterdag 6 Desember. Dié vier is ’n móét vir almal wat weer wil skater en vir dié wat nog nooit hierdie slaplagrolprente beleef het nie.
Die volgende flieks sal te sien wees:
Oh Schucks ... It’s Schuster
6 Desember om 20:00
Die rolprent is in 1989 vrygestel en sluit, onder meer, die sketse in met die springende telefoon, die slang in die tas en die omroeper op Jacaranda wat weier om na die regisseur te luister. Ruda Landman en Derek Watts is van die bekendes wat uitgevang is.
Sweet ’n Short
13 Desember om 20:00
’n Sportaanbieder is in ’n fratsongeluk en beland in ’n koma. Wanneer hy maande later sy bewussyn herwin, is dit die nuwe Suid-Afrika en besef hy met ’n skok dat hy sy werk, sy meisie en die fortuin wat hy by ’n casino gewen het, kwyt is. Dié fliek uit 1991 het vir Leon, Alfred Ntombela, Casper de Vries, Joanna Weinberg, Gerrit Schoonhoven en Ivan Lucas in die rolverdeling.
There’s a Zulu on My Stoep
20 Desember om 20:00
Twee seuns, een wit en die ander swart, was beste maats in Suid-Afrika tydens apartheid. ’n Voorval het ongelukkig ’n einde aan die vriendskap gemaak, maar wanneer hulle mekaar weer 25 jaar later raakloop, gaan hulle op die een avontuur ná die ander. Die fliek was in 1993 in teaters. Leon is te sien as Rhino Labuschagne, John Matshikiza is Zulu Mashabela, en Wilson Dunster speel General Diehard.
Oh Schuks ... I’m Gatvol
27 Desember om 20:00
Leon en sy wingman, Alfred Ntombela, besluit om Suid-Afrika te verlaat vir groener weivelde in Australië. Die reis daarheen is egter vol hindernisse en met duwweltjies besaai. Ook in die rolverdeling is Cobus Visser as Big Samoosa Woestyn, Bill Flynn as Ali Haque, Peter Ndoro as Captain Morgan, en Perlé van Schalkwyk, Portia Gumede en Juanita Strydom as die lugwaardinne van Vokov Air. Die fliek is in 2004 vrygestel.
Leon het die afgelope jaar twee groot eerbewyse vir sy lewensbydrae tot die vermaakwêreld in Suid-Afrika gekry – een van die Silwerskermfees en een van die FAK. Op ’n vraag oor hoe hy graag eendag onthou sal word, het Leon geantwoord: “As iemand wat vreugde vir Suid-Afrikaners gebring het”.
- DStv vier 30-jaar van vermaak en vanaf 7 tot 9 November 2025 kry alle DStv-kliënte met 'n dekodeerder-intekening volle toegang tot DStv Premium.
- Besoek gerus https://www.dstv.com/30-years -of DStv vir meer inligting en deel jou gunsteling DStv-herinneringe op sosiale media met die hutsmerk #DStvCelebrates30
