web uni tv guide
web uni tv guide

Een Keer Om Die Son

144Drama13

Heinrich Wentzel: Jong talent van Bonnievale nou deel van "Een keer om die son"

Nuus10 Februarie 2026
Hy is ’n plaaskind en slimkop wat eens ’n mediese loopbaan oorweeg het, maar toe die toneelgogga eers gebyt het, het Heinrich Wentzel besef dit is waar hy wil wees.
Heinrich Wentzel Article Image Een keer om die son S2 Ep 4

In vanaand se episode Een keer om die son, leer kykers Heinrich Wentzel as Elijah ken, ’n jong man wat net soos Leandri dialise moet ontvang. Die afgelope jaar was hy in twee van kykNET se dramareekse te sien – eers in Niggies as die jong Hans Theron en toe in Die nuusmakers as Daniël Joubert. Nou is deel van nog ’n gewilde drama op die kassie.

Hy is ’n plaaskind en slimkop wat eens ’n mediese loopbaan oorweeg het, maar toe die toneelgogga eers gebyt het, het Heinrich Wentzel besef dit is waar hy wil wees.

 Wat het jou laat besluit om drama te studeer?

Ek het in ’n klein dorpie in die Wes-Kaap, Bonnievale, grootgeword en by Hoërskool Bonnievale skoolgegaan waar drama nie as ’n vak aangebied is nie. Ek het wel altyd aan die skool se toneelstukke deelgeneem wat ons vir die dorp opgevoer het. Alhoewel ek dit baie geniet het, het ek nooit gedink dat dit realisties sou wees om ’n loopbaan daarvan te maak nie.

Maar toe het ek in my hoërskooljare goeie flieks gekyk en produksies op die KKNK se planke gesien wat my laat besef het dit is wat ek eendag wil doen: om films en teater te skep en ’n verskeidenheid karakters aan te pak – uiteenlopende karakters wat óf heeltemal van my realiteit verwyder is óf waarby ek aanklank kan vind. Ek het in 2025 my graad in Drama en Teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.

 Wat beteken Bonnievale vir jou?

Sjoe, ek sien dit  as ’n massiewe voorreg om in so ’n klein en hegte gemeenskap groot te kon word. Ek het op ’n plaas buite die dorp opgegroei, en dit was vir my die droom. Ek kon as kind op die plaas rondhol en elke dag iets nuuts ontdek om te bestudeer of op te klouter. Ek kon myself vir ure lank besig hou. Dit klink dalk simpel, maar ek dink regtig dis die mense wat Bonnievale laat uitstaan. Dis ’n gemeenskap wat opwinding en mooi in die klein goed kan raaksien en wat enige projek saam kan aanpak.

Verhoog of die kamera: Het jy ’n gunsteling?

Eish, dis moeilik. Alhoewel teater gerepeteer word om tempo-, klem- en energie-spesifiek te wees, weet mens nooit presies hoe die vertoning gaan verloop nie. Die energie wat dit vat om in ’n teaterstuk op te tree, bring soveel adrenalien en lewe na die ervaring. Met film en TV voel dit weer asof jy in die oomblik ander tipe risiko’s kan neem, met die regisseur wat jou toneel vir toneel lei. Die intimiteit van voor die kamera werk, bring ’n ander tipe fokus en opwinding na toneelspel. Ek hou ewe veel van albei.

 As dit by Suid-Afrikaanse akteurs kom, wie is vir jou ’n inspirasie?

Daar is baie. Ek kan vir ure lank na Albert Pretorius se werk kyk. ’n Mens glo elke woord wat hy sê, maak nie saak watter karakter hy speel nie, en hy maak sulke interessante en brawe keuses in sy spel, sonder dat hy ooit nie 100 persent teenwoordig is nie. Dan ook Frank Opperman, Rolanda Marais, Nicole Holm, wat een van my dosente was, Jarrid Geduld en De Klerk Oelofse, om maar net ’n paar te noem.

Watter internasionale akteurs se loopbane volg jy?

Ek kyk enige dag na Paul Mescal, Woody Harrelson, Ayo Edebiri, Olivia Colman, Harris Dickinson, Frances McDormand en Andrew Scott se werk.

 Hoe het jy voorberei vir die rol van Elijah?

Ek is maar nog baie nuut in die bedryf. So, my voorbereidingsproses vir elke geleentheid lyk anders. Ek begin altyd by die volle teks om te sien hoe die karakter optree en om die gevoel te kry van sy verhouding met ander karakters. Van daar af skep ek ’n agtergrond vir die karakter om te weet hoe hy in verskillende situasies sal reageer.

Ek fokus ook in my voorbereiding op wat die karakter se doelwit in elke toneel is. Dis iets wat Cintaine Schutte en Carel Nel my prakties geleer het. Die regisseur van Een keer om die son, Ivan Botha, het ’n baie spesifieke visie vir die reeks en my karakter gehad. So, hy was in staat om my toneel vir toneel te lei.

Elijah het akute nierversaking, en ek moes voorberei om kop te hou met sy gesondheidstoestand en hoe hy daarop reageer. Die karakter het ’n realistiese en effens siniese uitkyk op die lewe, maar probeer altyd ander laat lag. Hy steek sy swaarkry weg met humor, wat ook vir my belangrik was om in gedagte te hou: om sy vreesaanjaende realiteit te balanseer met humor.

 Hoe lyk jou dagboek vir die res van die jaar?

Ek vryskut tans. So, ek kan nog nie met sekerheid sê wat vir my voorlê nie. Daar is twee studenteproduksies van verlede jaar waarmee ons hierdie jaar bietjie toer. Die KKNK is gewoonlik een van die hoogtepunte van my jaar, en ek sien baie uit om vanjaar daar te gaan optree met die kinderproduksie Kaskenades! en die tragikomedie Akrasia. Later in Februarie gaan ek aan ’n kortfilm werk. Ek het onlangs met stemwerk vir die oorklanking van buitelandse reekse begin, en ek sien uit om meer daarvan te doen.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek maak kos, met ’n verskeidenheid musiek kliphard op my oorfone, totdat vriende my bel om te gaan stap, see toe te gaan of ’n fliek by die bioskoop te gaan kyk. Ek geniet eintlik enige oomblik wat ek saam met lekker mense spandeer – my familie en vriende is wat die lewe lekker maak. En kamp! Ek hou baie van kamp.

 Jy het ook skryftalent en is op skool ’n paar keer daarvoor vereer. Is daar iets op jou rekenaar wat jy hoop meer gaan word?

Ek het al gepoog om te skryf, maar ek kan dit nog nie ’n talent noem nie. Ek wil graag dié jaar bietjie eksperimenteer en kyk of ek kan skryf, maar ek los dit gewoonlik vir dié wat wel die gawe het.

Jy het die begroting wat jy nodig het. Watter produksie (teater, TV of film) sal jy graag deel van wil wees? Wie is die regisseur, medespelers en waar speel dit af?

As ek nou kan droom, kom The White Lotus in my kop op. Dalk sommer weer ’n seisoen wat teen die Mediterreense kus afspeel soos in seisoen twee. Ek sal ook ’n been gee om in ’n Yorgos Lanthimos-fliek te speel. My medeakteurs sal ek uitkies sodra ek die teks sien. Om in ’n produksie van Marthinus Basson en Nico Scheepers te speel is ook ’n Afrikaanse droom van my.

Een keer om die son wys Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook beskikbaar op DStv Stream.