web uni tv guide
web uni tv guide

Vat Jou Goed En Trek

144RealiteitPG

Vat jou goed en trek keer terug – met nuwe wenke en vars inspirasie

Nuus30 September 2025
Lees meer!
Vat jou goed

Die gewilde program Vat jou goed en trek is terug met sy 12de seisoen vanaf Vrydag 10 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), en dit beloof om groter, beter en meer inspirerend as ooit te wees. Henck Conrey en sy span toer Suid-Afrika plat – van Polokwane tot Gansbaai – om families by te staan wat hul huise wil verkoop.

Hierdie seisoen delf Henck dieper as voorheen in die eiendomsmark. Hy wys kykers hoe om hul huise voor te berei en te verbeter om dit teen die beste moontlike prys te verkoop. Met indrukwekkende kosmetiese opknappings, stylvolle idees en waardevolle wenke word die volle potensiaal van elke huis onthul en bring dit inspirerende en praktiese oplossings vir elke gesin en voornemende huisverkoper.

Volgens Henck is daar heelwat nuwighede om na uit te sien. “Ons is ongelooflik opgewonde om hierdie seisoen ’n klomp nuwe gesigte op die program te verwelkom. Van Coricraft met hul pragmeubels, tot die beste in eiendomsreg, verband- en oordragspesialiste, asook kenners van blindings, wat kykers meer leer oor die jongste tendense. Ons het dwarsoor die land gewerk – van die Kaap en Vrystaat tot Limpopo en Gauteng – en elke spasie het ons span se vaardigheid en kreatiwiteit op die proef gestel,” vertel hy.

Nog ’n hoogtepunt vir hom was die samewerking met die uiteenlopende ontwerpers en binnenhuisversierders. “As iemand wat bitter lief is vir spasies versier, was dit ’n groot voorreg om te leer by die talentvolle gaste wat hul persoonlikhede deur hul ontwerpe laat straal. Om hul unieke styl en kundigheid van naby te ervaar, was vir my uiters genotvol,” sê hy.

Henck erken ook dat dit soms ’n uitdaging was om van die families afskeid te neem. “Die mense wat ons dié seisoen ontmoet het, was so gasvry dat ek sommer ’n week lank by elkeen wou bly. Maar natuurlik sou dit ’n logistieke nagmerrie veroorsaak het,” lag hy.

Waarna gaan kykers verras? “Die transformasies! Die spasies wat ons aangepak het, was asemrowend. As kykers inspirasie soek vir hul eie eiendomme, moet hulle beslis inskakel.”

Vat jou goed en trek begin op Vrydag 10 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.