web uni tv guide
Diepe waters S4 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Ontmoet Frans se dogter, Nella, en haar man, Abel: Wat maak hulle in Boskruin?

Nuus16 Maart 2026
Wie is Nella en Abel?
Diepe waters article image

Kykers van die kykNET-telenovela Diepe Waters is mal oor hul verhouding en voel dat beide karakters verdien om geluk te vind.

Ja, Zelda (Sandi Schultz) en Frans (Deon Coetzee) se liefdesverhouding vermurwe omtrent harte. Sodoende is dit heel gepas dat ’n mens bietjie meer van die Vrystaatse boer, wat die soms gevreesde Zelda se hart gesteel het, se familielewe uitvind.

Dít vind plaas in die vorm van sy enigste dogter, Nella Boshoff (Marijke Bezuidenhout), wat saam met haar man, Abel (Arno Meyer), in Boskruin kom kuier.

Dié twee was in Parys, Frankryk, vir ’n moderesidensie. Abel is ’n jong opkomende modeontwerper en Nella ’n beeldskone model.

Tog kon die kuiergaste nie op ’n slegter tyd gekom het nie: Frans se wêreld word op sy kop gekeer wanneer hy groot finansiële skade ly.

Gaan sy geliefde dogter hom kan ondersteun of gaan haar teenwoordigheid dinge net vererger?

 

Nella Boshoff (vertolk deur Marijke Bezuidenhout)

’n Mens is maar altyd ’n bietjie op jou senuwees oor wat kykers van jou karakter gaan dink. Maar dis baie meer opwindend as angswekkend.

Só sê die energieke aktrise en danser Marijke Bezuidenhout (31).

“Nella is ’n komplekse karakter. ’n Mens dink jy verstaan haar, dan verras sy jou en tree op ’n heeltemal ander manier op,” verduidelik Marijke, wat al voorheen as Mienkie in 7de Laan en Liezl in Binnelanders te sien was.

“Ek het dit geniet om haar te speel, want sy het goed baie anders gedoen as wat ek dit sou doen.”

Om só ’n karakter te speel, moet jy haar nie veroordeel nie. Jy moet haar motiverings verstaan, al stem jy nie altyd met haar saam nie, meen sy.

Vir Marijke, ’n boorling van Hoedspruit in die Laeveld, was dit ’n hoogtepunt van haar loopbaan om saam met Deon toneel te speel. “Ek het grootgeword met Deon op die TV, so dit is vir my so spesiaal om teenoor hom te speel,” vertel Marijke.

“Hy is so behulpsaam. As daar ’n toneel is wat ek moeilik vind, dan sal hy altyd baie oop wees om vir my raad te gee of my te ondersteun.”

Marijke woon tans in Johannesburg en glo vas daarin dat jy die lewe voluit moet aanpak.

Sy het verlede jaar Suid-Afrika in Japan by die Professional Latin Championships verteenwoordig en is in Mei op pad Engeland toe om aan die Blackpool Dance Festival deel te neem.

“Dans of toneelspel, dis alles deel van die vermaaklikheidsbedryf op die ou einde van die dag. Dit bly só groot voorreg om  mense te kan vermaak.”

 

Abel Boshoff (Vertolk deur Arno Meyer)

Dié blondekop-hartebreker speel Nella se man, Abel, en vertel dat die Diepe Waters-stel sover een van sy gunstelinge was om op te werk.

“Dit is wonderlik om al die akteurs wat jy op TV sien in die regte lewe te ontmoet,” vertel Arno. “Maak nie saak hoe lank die akteur al in die vermaakbedryf is nie, almal hanteer jou soos ’n gelyke op stel.”

Al lyk dit midde-in al die drama op die kassie nie altyd so nie, is die inwoners van Boskruin werklik “mense-mense”.

Arno (29) vertel dit was vir hom wonderlik om by al die akteurs te leer. Veral Sandi en Deon.

“Deon staan en leer nog sy woorde, maar as die regisseur die toneel begin, dan voer hy alles so goed op. Dis ongelooflik,” verduidelik Arno.

“Sandi speel die karakter so goed, want jy kan die intensies van Zelda agter haar oë sien. Jy raak verlore in die oomblik binne die toneel.”

Arno was voorheen in die kykNET-reekse Straat en Hartklop te sien, maar floreer tans op die verhoog in teaterstukke. Hy het in Dear Evan Hansen en Paw Patrol hoofrolle gehad, en al die verhoog met Karlien van Jaarsveld en Zak Hendrikz in Aspoestertjie gedeel.

Arno woon nog sy lewe lank in Pretoria en is mal daaroor om koffie te drink en diep gesprekke te voer.

“Ek is iemand wat hou daarvan om te lag. ’n Slegte joke is beter as geen joke,” vertel hy met ’n glimlag.

 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom dié program ook op DStv Stream.