kyknet channel logo

Nuwe dokumentêre reeks: Wie is Frank Opperman werklik?

Nuus03 Februarie 2026
Frank begin Woensdag 18 Februarie om 20:00 op kykNET.
Frank Article Image

Frank Opperman is ’n verkleurmannetjie wat ewe oortuigend die rol van die spartelende predikant in Dominee Tienie as die ongekunstelde Ouboet in Orkney snork nie gespeel het. Sy vertolking van hierdie geliefde karakters het van hom volksbesit gemaak. Amper soos daardie klingel van die jare toet: “Rugby, braaivleis, sonneskyn en Chevrolet.”

Frank vertolk nie net ’n rol nie, hy wórd die karakter – soos met Pa Lourens van Nêrens, Noord-Kaap waar hy kykers met sy eerlike spel geheel en al oorrompel en tot trane gedryf het.

Nou het Frankie Opperman, regisseur en Frank se seun,’n intieme en tydige dokumentêre reeks oor sy pa gemaak. Dié reeks, bloot Frank getiteld, bestaan uit drie episodes, en dit is net so onopgesmuk en op die (Opper)man af soos Frank self.

In die eerste episode ontmoet Frankie sy pa in Woodstock, Kaapstad, waar hy die afgelope paar jaar vir homself ’n nuwe lewe oopgeskrop het. Met Frank wat nie maklik kan stilsit nie, is daar ook ’n kuier op die stel van ’n nuwe reeks.

In die tweede episode vat pa en seun die pad na Johannesburg. Onderweg na die noorde word daar by kollegas en vriende ingeloer, en hulle maak ’n draai in die byna vergete Oppermansdorp, halfpad tussen niks en nêrens in die Vrystaat.

Met hul aankoms in Gauteng volg besoeke aan familie, vriende en medewerkers, en dan is dit tyd vir die laaste groot oppak in Melville, waar Frank meer as 20 jaar gewoon het. Tussen bokse en bokse vol argiefmateriaal neem Frank voorraad op van sy lewe.

Frank maak dit duidelik dat hy nie te lank in die verlede wil vertoef nie. Daar is nog baie dinge wat hy wil aanpak, maar, sê hy: “Dit was tog vir my lekker gewees om te kon terugkyk na wat ek tot nou op 65 gedoen het.”

Hy sê die bokse vol herinneringe het hom gedwing om deur alles te gaan en uit te sif wat werklik nodig is.

“ ’n Mens kyk mos nie elke dag na daai goed nie. Om deur die bokse te gaan en te kyk na foto’s en dinge wat my ma oor al die jare in ’n album gesit het, was vir my soos om baie dinge van voor af te ontdek. Hier en daar het dit nogal emosioneel geraak.”

Vir Frankie was dit by tye ook ’n uitdaging om sy pa se lewensverhaal te vertel, juis omdat die twee van hulle ’n noue band het.

“Dis jou pa, en jy wil natuurlik nie sy nalatenskap skade aandoen nie, maar jy wil hom ook na emosionele plekke toe vat en vrae vra wat dalk ongemaklik kan wees. Ons het iets anders probeer doen met die dokumentêr, en hopelik sien en waardeer kykers die eerlikheid waarmee hierdie dokkie aangepak is.”  

Ook vir Frankie was dit ’n baie emosionele ervaring om in die familiegeskiedenis te delf. Hy was met van die anekdotes reeds vertroud, maar het ook heelparty nuwe staaltjies gehoor.

“Daar is van die snaaksste stories, maar ook stories van hartseer en pyn.”

 Vir Frankie is die openhartigheid wat sy pa na die dokkie gebring het, iets spesiaals.

“Hy dra sy hart op sy mou en is altyd net homself: ’n ou sonder ego en met ’n klomp foute, soos almal van ons, maar terselfdertyd iemand met ’n sagte hart wat geliefd is onder sy medekunstenaars, familie en aanhangers.”

Hoe het Frank hierdie samesyn met sy seun ervaar?

“Wat ’n voorreg om dit saam met my seun te kon doen en te probeer om vir hom te wys wat ek nou al gesien het in my lewe.

“Ek hoop die kykers sal sien ons gaan maar almal deur dieselfde dinge – en acting is maar net nog ’n job, en dis glad nie so glamorous soos wat mense dink dit is nie. En hopelik doen ek nog genoeg goed in die toekoms vir nog ’n dokkie.”

Frank begin Woensdag 18 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream beskikbaar wees