Na ’n geurige eerste seisoen is Op pad met my potjie terug vir nóg ’n heerlike avontuur vanaf Vrydag 28 November 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) — en dié keer verken Joalette de Villiers ander dele van Namibië. Waar sy in die eerste seisoen reeds die land se mense en geure leer ken het, reis sy nou verder en dieper die land in om nog meer unieke gemeenskappe, plekke en potjies te ontdek.
Van wildreservate tot kusdorpe, van plaaslewe tot dorpsmarkte — Joalette ontdek weer die hart van Namibië deur sy mense, kos en kultuur. “My nommer een rede om terug te keer bly altyd die mense en my land,” sê Joalette. “Daar’s soveel wonderlike afgeleë plekke en mense wat my laat tuis voel sodra ek daar aankom. Die unieke potjies wat gemaak word, is die kersie op die koek.”
In Seisoen 2 besoek Joalette dertien uiteenlopende dorpe en gemeenskappe, onder meer die volgende:
- by N/a’an ku sê ontmoet sy Marlice en Rudie van Vuuren van die kykNET progam Groen: Namibië en kook ’n beesvleispotjie;
- in Rehoboth leer sy meer oor die Basters se geskiedenis en maak ’n lamskenkelpotjie;
- in Otjiwarongo maak sy en Christian ’n krokodilvleispotjie;
- in Hentiesbaai probeer sy visvang en maak daarna ’n steenbraspotjie;
- en by Noordoewer sluit sy haar avontuur af met ’n sout pampoenpotjie.
Vir Joalette was dié seisoen nie net ’n kulinêre reis nie, maar ook ’n persoonlike ontdekkingsreis:
“Ek het leer mozzarella-kaas maak, boerseep kook, leerwerk doen, visvang en selfs ’n krokodil gevoer! Hierdie seisoen was propvol nuwe, unieke kennis. Absoluut besonders,” vertel sy.
Elke episode bring nuwe gesigte, nuwe lesse en nuwe geure. Vir Joalette staan drie woorde sentraal: kennis, avontuur, passie.
“Ek hoop kykers sien die passie van die mense wat ek ontmoet het – hulle wys dat jy met min baie kan doen, en dat ware geluk lê in wat jy liefhet,” sê sy.
Moenie die tweede seisoen van Op pad met my potjie misloop nie – vanaf Vrydag 28 November om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

