As daar nou een program is wat die vlammetjie van hoop in dorpies regoor die land aangesteek het – ’n vlammetjie wat al hoe helder, wyer en sterker brand – is dit kykNET se lewensveranderende werklikheidsreeks, Lottoland help ’n dorp.
Tot nou toe het 44 dorpe regoor Suid-Afrika baat gevind by hierdie ongelooflike projek. Dis nie net praatjies nie, danksy Lottoland help ’n dorp is daar meer s R30 miljoen in die platteland belê. Ongelooflik!
Nou kan jóú dorp ook deel van hierdie projek word, ’n projek wat op so ’n positiewe manier verandering in gemeenskappe bewerkstellig, ’n projek wat grense afbreek en mense laat hande vat vir die groter prentjie: die voortbestaan en vooruitgang van kleiner dorpies in die land.
Ses dorpe gaan gekies word om hulle dorp op die beste moontlike manier aan die land bekend te stel. Dink net wat kan alles met ’n maksimum begroting van R1 miljoen in jou dorp verrig word.
Nog nie oortuig nie? Kyk net na ’n paar van die suksesverhale wat reeds deur kykers gesien is.
Een van die beste voorbeelde is Coligny in Noordwes, die dorpie wat voor Lottoland help ’n dorp se hulp as die “dorpie wat in duie gestort het” bekend gestaan het. Dit was ook die dorp wat vir al die verkeerde redes die nuus gehaal het. Ná ’n R1 miljoen-inspuiting het die inwoners hul hoofstraat en dorpsingange opgeknap en die gemeenskap het saamgestaan en ’n nuwe storie vir hul dorp begin skryf.
In die Oos-Kaap het Rhodes met minder as 30 permanente inwoners ’n groot oplewing in besoekers én belangstelling in die dorp beleef.
Die impak van die nuwe sportterrein wat by Vanwyksdorp in die Klein-Karoo tot stand gebring is, het so wyd uitgekring dat die inwoners sélf hul huise met ’n vars lagie verf verfraai en die dorp verder begin opknap het.
Maar dis nie net in die dorpe waar daar winde van positiewe verandering waai nie. Buurdorpe klop gereeld aan vir hulp en leiding om ook dieselfde oplewing in hul dorpe te bewerkstellig.
Is jou dorp gereed om met groot visie, goeie beplanning en samewerking ’n merkwaardige omwenteling mee te bring? Wat belangrik is, is dat die projekte ook ’n duidelike visuele verskil toon – kykers en besoekers moet die verandering kan sien.
So skryf jy in:
- Laai die projekplan hier af: https://bit.ly/lottoland-help-n-dorp-inskrywing
- Voltooi die projekplan, of gebruik die templaat om jou eie plan te maak.
- Stuur die voltooide plan en ondersteunende dokumente na dankielottoland@gmail.com.
- Inskrywings sluit 30 Januarie 2026.
- Terme en voorwaardes geld en is op die projekplan vermeld.
Vir enige navrae oor die inskrywing of projekplan, stuur ’n e-pos na dankielottoland@gmail.com.
