Driekampster en topatleet, ja, maar in sy sosiale interaksies is dit duidelik iets is nie heeltemal pluis nie.
Boonop tree hy vreemd op elke keer as hy oor sy geheimsinnige verlede begin praat.
In hierdie week se episodes van Diepe Waters het Liam, en sodoende ook die kykers, eindelik hul antwoord gekry: Hy is gediagnoseer met Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS).
“Ek het spesifiek in my vertolking van Liam dit van die begin af ’n bietjie duideliker gemaak dat daar iets off-beat is met hom, sodat die verskil groter kon wees wanneer hy gedianoseer word,” vertel Abel (34).
“Ek hoop dit sit dinge in perspektief sodat die storie vir die kykers nou meer sin kan maak en dat hulle hom dalk meer kan vertrou.”
Dié steuring, wat dikwels as die Engelse ADHD in gesprekstaal bekendstaan, dui op ’n wanbalans van dopamien in die brein en kan lei tot onder andere rusteloosheid, impulsiwiteit en iemand wat se aandag maklik afleibaar is.
Van dié simptome was baie duidelik in Liam se gedrag. Hy sou dikwels homself met oefening ooreis, impulsiewe besluite neem of sy gedagtegang in ’n gesprek byster raak.
Dinge bou stelselmatig op totdat die joernalis Bones (Wian Smit) aanhoudend vir Liam oor sy verlede begin pols en Liam hom in die swemklub voor almal aanval.
Dit is duidelik dat Liam nog nie ten volle die skielike dood van sy ma verwerk het nie en baie skuldig voel dat sy broer daarna sy eie lewe geneem het.
“Dit was ’n baie unieke, maar ook lekker, uitdaging om Liam te speel,” verduidelik Abel.
“Ek het besef ek moet hierdie karakter en die storie met sensitiwiteit, empatie en respek hanteer, omdat dit so na aan baie ander mense se stories in ons samelewing is,” voeg hy by.
Abel self was twee jaar terug met volwasse ADHD gediagnoseer, wat vir hom op ’n uiters diep reis na binne geneem het.
Sy familiegeskiedenis is volop met bipolêre depressie, en hy is sowat 10 jaar terug daarvoor begin behandel. Dié diagnose en medikasie kon nie ten volle strook met Abel se gedrag nie en dit is eers met sy ADHD-diagnose wat die stukkies van die legkaart eindelik reg inmekaar begin pas het.
“Ek kon soveel met Liam se storie vereenselwig. Ek het dit gelees en van die begin af ’n gut feeling gehad dat hierdie rol vir my geskryf is, want ek kan so baie uit my persoonlike en emosionele ervarings vir Liam se vertolking put,” vertel Abel.
“Ek het onmiddellik gevoel daar is ’n groter doel agter die karakter en hoekom ék in sy skoene moes klim. Sodoende kon ek ook my storie, deur Liam, met eerlikheid, deernis en geloofwaardigheid vertel.”
Wanneer hy deur die tekste moes werk en die storie of emosies te na aan sy eie lewe gevoel het, kon hy, nes Liam, gaan oefen om sy kop skoon te kry. “Om vir die karakter voor te berei en in sy skoene te klim, het ek baie van myself geleer en baie liefde vir die karakter ontwikkel,” sê Abel.
Liam kies om nie stil te bly oor sy diagnose nie en wil as publieke figuur ander daarvan bewus maak. Abel hou van dié benadering, want hyself voel dit is die regte besluit.
“Ek was nog altyd iemand wat my kuns en gawes van bo, hetsy musiek, liedjieskryf of toneelspel, as instrument wou gebruik om ander te help deur middel van my eie verliese en uitdagings,” verduidelik Abel.
“Jou storie kan vir iemand anders genesing bring. Daarom voel ek presies dieselfde as Liam: As ek een persoon kan help om die simptome raak te sien, sal dit alles die moeite werd maak.”
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.






