Dit het weliswaar vier jaar geneem vir hierdie gewilde natuurbewaringsreeks om weer na kykNET se skerms terug te keer, maar die wag was beslis die moeite werd.
In Namibië, sowat 42 km oos van Windhoek, veg Marlice van Vuuren en haar man, dr. Rudie van Vuuren, steeds met ’n toegewyde span onverpoos voort om die lewe vir wilde diere wat nie na hulself kan omsien nie, makliker te maak.
Marlice het op Harnas in die ooste van Namibië grootgeword, ’n veilige hawe vir diere in nood wat soortgelyk is aan die rehabilitasieskuiling N/a’an ku sê waarby sy en haar man nou betrokke is. Dit was juis Marlice se ma, Marieta van der Merwe, wat in 1978 ’n apie van ’n gewisse dood gered het en só die vlammetjie aangesteek het wat uiteindelik daartoe sou lei dat Marieta saam met haar man, Nick, die beesplaas Harnas as ’n wêreldbekende skuiling vir beseerde diere gevestig het.
Dis ongetwyfeld ’n diepgewortelde liefdestaak om diere in nood te versorg en te rehabiliteer met die oog daarop om hulle weer in die natuur vry te laat. Nie almal herstel voldoende om vrygelaat word nie, en hulle bly inwoners van N/a’an ku sê.
Die rede vir hierdie “wilde” inwoners se nuwe verblyfreëlings is uiteenlopend. Soms is hul wees gelaat nadat hul ouers dood of beseer is. Onder die permanente inwoners tel Lucky, die driebeenluiperd, wat een van sy ledemate verloor het toe hy ’n meganiese valstrik (gin trap) afgetrap het. Vir Lucky was dit inderdaad ’n geluk dat sy pad met dié van die Van Vuurens gekruis het.
Marlice en Rudie fokus nie net op eksotiese wild nie – selfs onnutsige meerkaaie en bobbejane vind hier ’n veilige hawe. Benewens die dierehospitaal is daar ook navorsingsgeriewe by N/a’an ku sê wat van onskatbare waarde vir die voortbestaan van Namibië se ryk dierelewe is.
Kykers gaan vir 13 episodes hulself kan inleef in elke situasie waarin Marlice en Rudie beland – van die stryd om renosters te hervestig en olifante te red tot ’n gestoei om seekoeie van plek en plan te laat verander. Daar is spannende situasies en roerende tonele, maar die natuur sorg ook altyd vir ’n lekker skeutjie humor, en daar is dus gereeld ook ligter oomblikke.
Groen Namibië word vanaf 18 Januarie 2026 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai.




