web uni tv guide
web uni tv guide

Skemergrond

145Telenovela13

Clint Aplon sluit aan by 'Skemergrond' – is sy Lukas dalk die een vir Patty?

Nuus19 November 2025
Die gewilde akteur Clint Aplon, bekend vir sy rolle in 'Arendsvlei' en '7de Laan', maak vanaf 19 November 2025 ’n gasverskyning in 'Skemergrond'.
Skemergrond

Hy vertolk die rol van Lukas de Jager, ’n skrywer wat sy eie pad stap en nuwe mense in Gemoedsdrif leer ken.

“Lukas is ’n baie awkward en ’n senuweeagtige mens,” vertel Clint. “Hy is ’n skrywer, en ek dink omdat hy in sy eie wêreld leef, is hy baie awkward as hy rondom ander mense is. Hy’s so diep in sy stories en boeke dat hy bietjie skaam raak in die openbaar. Hy’s ’n baie passievolle skrywer wat dit groot wil maak en sy boek wil klaarmaak.”

In die telenovela raak Lukas bevriend met Patty (gespeel deur Gretchen Ramsden). “Hulle raak vriende en besef hulle het baie gemeen. Hulle lag vir dieselfde tipe grappe, en hulle albei hou van stories. Lukas hou van die kos wat Patty maak, en sy hou van die boek wat hy skryf. Hulle gesels so lekker dat daar dalk iets meer tussen hulle is.

“Hopelik kan Lukas iemand wees wat Patty verdien, en hopelik kan sy iemand wees wat vir hom bietjie weg van sy werk af kan hou, want hy is so gefokus op werk. Ek dink hy makeer iemand in sy lewe wat sy wêreld ook kan verstaan en kan liefde wys en dat daar meer in die lewe is as net werk,” sê hy. 

Oor ooreenkomste tussen hom en sy karakter sê Clint: “Ek sit altyd ’n bietjie van myself in die karakter in. Ons al twee hou van skryf – ek het ’n musiekblyspel geskryf ’n paar jaar terug en hou van stories vertel. Ek dink ek is ook soms ’n bietjie awkward en daai gedeelte van my het ek in Lukas gedruk.”

Hy voeg by dat daar wel groot verskille tussen hom en Lukas is: “Lukas is baie werksgedrewe – werk is vir hom ’n prioriteit. Vir my is dit nie; vir my is God se wil vir my lewe en my familie die belangrikste. Al die besluite wat ek neem, is vir my familie, waar Lukas besluite vir homself neem.”

Clint het tydens die verfilming nie net toneelgespeel nie, maar ook as dialoogafrigter en regisseur-in-opleiding gewerk. “Dit was baie moeilik en draining in terme van energie,” sê hy. “Omdat ek elke dag op stel moes wees as dialoogafrigter en trainee-regisseur, het ek nie so baie tyd gehad om lekker voor te berei nie. Ek moes sommer vinnig tussendeur werksure my woorde leer.

"Ek het ook ver voor die tyd my woorde begin leer omdat ek juis geweet het dit gaan nie maklik wees nie, en dit het my baie gehelp. Soms moes ek die dialoogafrigter wees en toneelspel, en daai was die grootste uitdaging – om die mindswitch te maak van dialoog na toneelspel. Maar dit het my baie geleer van myself – dat ek in staat is om dit te doen as ek net glo in myself en my beste gee.”

Hy is baie positief oor sy tyd op stel: “Die stel is ’n veilige hawe, en die regisseurs en bemanning is almal wonderlik. Ek was ongelooflik senuweeagtig, want ek wou nie net die regisseurs beïndruk nie, maar ook die produksiemaatskappy en wys dat ek goeie werk kan doen.

"Roxanne Blaise en Heleni Handt is rêrig twee uitstekende regisseurs wat my mooi gelei het, en ons het saamgewerk om die karakter te skep. Ek het rêrig fun gehad – om toneel te speel is iets wat ek die meeste geniet.”

Is Lukas eindelik Patty se ridder op ’n wit perd? 

  • Skemergrond is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.