Die jaar lê al op sy rug en soos Kersfees vir ons wink is dit vir kykNET lekker om die nuus te deel dat die gewilde fliekNET-kanaal weer vanaf 1 Desember 2016 tot 31 Januarie 2017 op DStv Premium beskikbaar gaan wees. Die tydelike fliekkanaal sal weer oudergewoonte beskikbaar wees op DStv-kanaal 198.

 “kykNET is deesdae sinoniem met Afrikaanse film en dit is ‘n voorreg om die gehalte films van die afgelope paar jaar met ons kykers te kan deel,” verduidelik Karen Meiring, Direkteur kykNET-Kanale.

 Kykers kan uitsien na die romantiese komedie Mooirivier wat vyf paartjies volg op hul reis na liefde. Daar is ook die Jeanne Goosen-komedie ‘n Paw-Paw vir my Darling wat spog met ‘n uitsonderlike rolverdeling en dan sorg Albert Maritz vir ‘n hartroerende vertolking in die drama ‘n Man soos my pa.

 Die kleinspan kan uitsien na die avonture van Maya die By terwyl Edwin van der Walt en Vilje Maritz die tieners se harte ‘n bietjie vinnger sal laat klop in die branderplank-film, Die Pro

 Skakel in op DStv-Kanaal 198 vanaf 1 Desember tot 31 Januarie vir die mooiste stories in Afrikaans.

 Die volledige program sal binnekort beskikbaar wees op www.kyknet.tv.  

Related